Jy weet, ek verpes baaltou. Daardie rooi-oranje tou waarmee lusern bale gebind word. Wanneer die diere klaar gevoer is word die tou op ‘n sentrale punt gestoor. Dit is ‘n mooi manier om te sê dat die baaltou wat nie meer om ‘n baal is nie daar om ‘n paal gehang word sodat dit nie die wêreld vol waai nie. Dit hoop so op dat dit nou naderhand orals benut word – herwinning is mos ‘n ding. En dit is wat my grief, want baaltou is die maakpas oplossing vir alles wat nog reggemaak moet word, maar waarvoor daar nie nou onmiddellik tyd (of geld) is nie. Fix dit met baaltou. En weet jy wat? Daardie dekselse lelike tou breek nie! Vir niks nie! Hier word ‘n hek daarmee toegebind, daar waar ‘n skarnier af is word dit gou met baaltou aanmekaar gehou totdat dit reggemaak word. As jy bang is iets waai van die bakkie af? Moenie bekommer nie, ons het baaltou! Bind dit daarmee vas! Bind ‘n sak daarmee toe, sleep die kinders se skopfietsies agter die bakkie aan (dis ‘n storie vir ‘n ander dag)
In sommige gevalle word die baaltou sommer ‘n permanente oplossing. Want dit breek net nie! Dis naderhand so lelike toiing affêre. Maar dit hou. En nou moet ek bieg, ek het al self ‘n keer of wat na ‘n stuk baaltou gegryp om iets te bind. Ek het my man al gevra hoekom hy nie net daardie ou stukke baaltou net kan weggooi nie. Sy antwoord? “Dit werk dan vir alles!”
Dit het my laat dink. Om ‘n ma te wees is darem maar soos om ‘n stuk baaltou te wees. Ons hou alles bymekaar. Al lyk ons “woes en gekroes” soos my kinders sou sê, hou ons steeds die fort. ‘n Ma bind alles saam. Ons moet weet wanneer die kinders waar moet wees, ons moet sorg dat hulle nie soos “Sannie-gaan-weeshuis-toe” by die deur uitstap nie. Hulle moet gevoer word. Manlief wil ook aandag hê. Die honde, katte en hamsters moet gevoer word. Niemand wil toebroodjies vir aandete hê nie. Jy moet huiswerk nagaan, ballet bywoon, klavier help oefen, storieboek lees, krieket reels leer en boonop ook nog almal daaraan herinner om tande te borsel. En dan nog soebat, smeek en skel om almal deur die bad te kry! Wanneer almal siek word kan niemand van hulle funksioneer nie, maar met jou siek mamma-lyf moet jy steeds almal dokter en troos. Tussen dit alles deur moet jy jouself ook darem na iets laat lyk en waardig bly voel.
Ai, om so onwaardig te voel is darem maar aaklig. Ek is seker dat ieder en elke mamma daardie gevoel ken en met die vrae worstel. Is ek genoeg? Doen ek genoeg? Doen ek dit reg? Sien iemand my ooit raak?
Liewe mamma, ek hoor vandag jou hart. Elke mamma lyk een of ander tyd soos ‘n ou stuk baaltou. Maar ons bly sterk en ons breek nie. Want met Genade van bo is daar vir ons krag gegee om alles bymekaar te hou en selfs lank nadat ons dink dat ons doel uitgedien is, is ons steeds iets werd. Het ons steeds nut en is ons selfs steeds belangrik in ander se oë.