Hoe wonderlik is dit nie om iemand te hê wat vir jou bid nie? Nie net in moeilike tye nie, maar selfs wanneer jy nie eens besef dat jy gebed nodig het nie.
Ek het onlangs vir Veronica, Eersteklas se bobaas naaldwerkster, gevra om tafeldoeke te maak wat ek tydens markuitstallings by die Eersteklas stalletjie wil gebruik. Sy het aan die werk gespring en die netjiesste tafeldoeke gemaak, presies volgens my spesifikasies. Maar sy het iets ekstra gedoen, iets wat ek nooit sou verwag nie. Sonder dat ek daarvan geweet het, het sy in haar stilte oor Eersteklas gebid. Sy het Bybelversies wat seën oor ons handewerk uitspreek, per hand in die some van die tafeldoeke geborduur. Ek het dit eers later ontdek, en my hart het in my bors geklop van dankbaarheid. Dit is vir my ‘n teken van ware omgee – ‘n mens wat nie net met haar hande werk nie, maar ook met haar hart en geloof.
Daar is nie ‘n groter geskenk as om vir iemand te bid nie. Om hul naam voor die Here te noem, om vir hulle seën te vra, selfs sonder dat hulle ooit daarvan weet. Sedert ek daardie geborduurde versies gesien het, staan ek met ‘n baie meer geruste hart tydens markte uit. Ek weet nou dat waar ek te kort skiet, daar iemand is wat oor Eersteklas bid.
Wanneer dinge moeilik raak, is dit belangrik om nie net vir dit te bid nie. Maar ook oor dit te bid en daardeur te bid. Soms voel ons gebede swak en onbeholpe, maar dan stuur God iemand oor ons pad wat namens ons bid – dikwels sonder dat ons dit besef. Dit is dalk jou ma, ‘n vriendin, ‘n broer of suster. Ander kere voel ons gebede deur ‘n vreemdeling wat ‘n sagte woord in die winkel spreek, ‘n koel bries wat jou gesig streel wanneer jy oorweldig voel, ‘n boodskap oor die radio wat jou presies op die regte oomblik tref.
Het jy al ‘n vreemdeling raakgesien en sonder om daaroor te dink vir daardie persoon gebid? Vir beter omstandighede, vir moed, vir deursettingsvermoë? Wie in jou lewe, vriend of vreemdeling, het vandag ‘n gebed nodig? Vir wie kan jy ‘n seën wees deur eenvoudig hul naam voor die Here te noem?
Net soos ek deur Veronica se gebede gedra is, dra ons mekaar – dikwels sonder dat ons dit weet. Mag ons nooit die krag van gebed onderskat nie. Dit is ‘n ongesiene ketting wat ons aan mekaar verbind, ‘n fluistering in die donker wat lig bring, ‘n liefdevolle daad wat stil maar kragtig werk.
Vir wie bid jy vandag?