Die liewe Vader stuur bepaalde mense op ‘n bepaalde tyd oor jou pad vir ‘n rede. Soms is dit om jou te help en soms is dit jy wat hulle moet help. En dan is daar kere wat mense oor jou pad gestuur is vir jou om ‘n les te leer.
My les was hierdie jaar dat vrede ‘n prys het en dat dit soms nodig is om jou rug te draai sodat jy daardie vrede kan vind.
Mag jy hierdie Feesseisoen vrede vind in Jesus Christus. Hy het soveel veel meer lyding & smart deurgegaan as wat ons ooit kan dink, vir ons om ewige vrede te hê.
gebroke glas
mure in puin
die tuin is verwoes
als het verdwyn
daars skote wat val
ek loer oor die loop
daars hartseer en pyn
en wonde gaap oop
dit is nou nie meer-
die front wat eens was
‘n pragtige prentjie
nou net ‘n hoop as
ek begin weer bou aan die muur om my hart
en besef die prys van vrede is soms lyding en smart.
Kopiereg – Colene Pretorius