Oor Ons

Eersteklas se storie.

Leer meer van ons

Ons is Eersteklas

Dit het alles begin met ‘n winkeleienaar wat nie meer kans gesien het vir die daaglikse ver pad in dorp toe nie, ‘n ander by ‘n kruispad en ‘n derde met ‘n geleentheid. Saam het hierdie drie vroue aan ‘n plan begin werk om ‘n pragtige plattelandse geskenkwinkeltjie se horisonne te verbreed en in ‘n aanlynwinkel te omskep. Die plan het aan al drie se behoeftes voldoen en die wiel is aan die rol gesit. Soos die tyd verloop het en dinge in plek geval het, het die idee ontstaan dat die aanlyn platvorm nie slegs vir die geskenkwinkel se voorraad sal wees nie, maar om plaaslike vroue met talent ook ‘n geleentheid te gee om hul produkte aan die wêreld te wys. Kort voor lank is ‘n paar vol vroue bymekaar gemaak. Wat is ‘n vol vrou vra jy? Dit is ‘n vrou wat daagliks werk aan wie sy is. ‘n Vrou wat na balans streef. ‘n Vrou wat weet dat jou hart, liggaam en gees SAAM gesond moet raak. ‘n Vrou opsoek na ‘n beter, meer gesonde weergawe van haarself. Elkeen van hierdie vol vroue leef haar talente uit, hul swoeg en sweet om ‘n inkomste te verdien en lewer uitsonderlike proukte vanaf kuns, keramiekwerk, naaldwerk, gebottel en gebak.

Ons is Liefde

Alhoewel Eersteklas gegroei het tot die idee dat slegs unieke, kwaliteit handgemaakte produkte deur die platvorm beskikbaar sal wees, het ons nie van ons oorspronklike dames vergeet nie. Diegene sonder wie Eersteklas nooit op die been sou kon kom nie. Indien jy dus iets raaksien wat nie noodwendig handgemaak is nie, weet steeds dat hierdie produkte deel van iemand se droom is. ‘n Droom wat klein en eenvoudig begin het en vlerke gekry het. Eersteklas wil graag die handelsmerk wees wat jou gerus stel dat die items op ons blad nie net nog ‘n produk van massaprodusente is nie, maar iets wat met liefde en deernis gemaak is. Nie om nog ‘n luukse sportmotor aan te skaf nie, maar om die kinders se buitemuurse aktiwiteite te kan betaal of om die mediese rekening te dek. Dit is vir vroue wat menigmaal nie hul eie waarde besef nie, maar steeds daarna streef om ander te help. Vroue wat verlies ervaar het en deur hul handewerk vertroosting vind.

Ons is Omgee

Alle handwerk beskikbaar op Eersteklas is uniek en van hoogstaande gehalte. Juis omdat voorraad handgemaak is, is dit enig in hul soort en lyk elke item nie noodwendig presies dieselfde nie. Ons gee ook graag erkenning aan elke verskaffer, ongeag hoe groot of klein, want hier ken elke vrou mekaar. Ons bemoedig mekaar, dra mekaar, bid vir mekaar en vier elke mylpaal saam met mekaar. Want dis wat eersteklas vroue doen. By Eersteklas streef ons ook na ‘n beter toekoms deur klein dingetjies te doen wat sal verseker dat ons kinders ‘n eersteklas toekoms het. Daarom sal ons verpakking nie noodwendig nuutgekoopte houtwol of bubblewrap wees nie, maar miskien die plaaslike supermark se versnipperde pamflette van verlede maand. Maar wees gerus, die inhoud sal steeds per hand geKLAS word sodat jy kan weet jy ontvang steeds gehalte produkte!

Ons is Eersteklas Vroue

Verloor jouself op ons webtuiste, lees elke vrou se profiel. Blaai deur die produkte, droom oor hoe jy dit sal benut en voel die liefde, vreugde, emosie, trane, vasberadenheid en geloof wat in hierdie projek gestort is. Kry hier pitkos vir die week en herlaai jou gemoed. In ‘n besige, bedrywige wêreld verdien jy om ‘n oomblik weg te breek en deur ons winkel te “stap” sonder bekommernis dat jy op die verkeerde plek parkeer het of dat ‘n booswig by jou motor sal inbreek. Sonder om te wonder of iemand dalk jou handsak gaan wil gryp of jou kinders sal wil steel. Sonder die bekommernis dat jou kinders ‘n rak sal omstamp en jou met ‘n rooi gesig laat. Sonder om te bekommer of jou hare gekam is en of jy grimering aan het. Hier kan die eersteklas vrou kry presies waarna sy soek vir daardie spesiale iets wat kort in haar huis of die perfekte geskenk vir daardie eersteklas vriendin! Elke pakkie word spesiaal opgemaak en op versoek kan ‘n persoonlike briefie ook bygevoeg word, want net die beste is goed genoeg! Ondersteun plaaslike produsente deur hierdie platvorm, want hier is alles gerieflik bymekaar en vier so saam met ons die vol vroue. Die Eersteklas Vroue!

Jy wil tog nie jou Eersteklas trollie net so los nie?

Los gerus jou details sodat jy later jou aankope kan finaliseer.

Scroll to Top
My cart
Your cart is empty.

Looks like you haven't made a choice yet.