Somer vir jou siel

Ek is seker dat die son die week tussen Kersfees en Nuwe jaar die heel, heel naaste aan die aarde is. Genugtig, dis so warm dat selfs my warm warm kry! Ek weet daar is mense wat die weer vreeslik geniet terwyl hulle met hulle pragtige kinderlose, geoefende bikini-lyfies op die strand kan baljaar. Maar ek is nie een van hulle nie. Nee. Ek het iewers in my kas dalk ‘n bikini, maar is seker dat dit as ‘n internasionale misdaad teen die mensdom beskou sal word as ek in die publiek daarin sou verskyn. Ski-pants en ‘n t-hemp is tans maar my voorland.

Om binne-in die huis te bly is te warm. Alles plak aan my vas en die lugversorger laat my sinusse oppak. Dan gaan geniet ek eerder die vars buitelug. Ek wil my verbeel dat dit effens koeler is daar onder die boom met ‘n ligte briesie wat roer. Die kinders oortuig my om saam met hulle te swem en ek gebruik ongeveer 1 liter sonbrandroom om seker te maak dat niemand vanaand met sonsteek sit nie, maar op ‘n manier vergeet ek van myself en brand my omtrent gaar. Ek het al van vetverbranding gehoor en wil almal graag laat weet dat hierdie nie die korrekte metode daarvoor is nie! As gevolg van die hitte bloei iemand se neus ook nog kort-kort.

Die tyd van die jaar bestaan daar ook mos nou nie iets soos ‘n dieet nie. O nee. Dis asof jy jouself heel jaar uitgehonger het om nou alles en nog ‘n bietjie op te eet. Die hele gesin vra kort-kort vir iets om aan te peusel. So asof hul my heeldag sien bak en brou en verwag dat daar elke uur iets nuuts moet wees. Dankie tog vir allerhande konfyte, peuselhappies en drankies beskikbaar op Eersteklas. Ek hoef niks self te maak nie en kry darem ook ‘n effense blaaskans. My huis is in elk geval ook nog te warm vir kosmaak en my man is ook net so lank tevrede met slaai vir aandete. Dan moet ons maar braai.

Die aandlug is minstens aangenaam. Vir die eerste 5 minute. Dan ontdek die vlieë en muskiete my en smul tog te heerlik aan my broos vel wat so in die son gebraai het. Met my geluk sal ‘n vet bosluis ook van iewers af uitkruip en onder my toon kom sit of iets. Terwyl die muggies en torre uit die onkruid aankom omdat hulle ook net wil kom kyk waaroor die bohaai gaan. Dis mos al wat in hierdie aaklige hitte kan oorleef. Onkruid. In die winter het niemand ‘n verwagting dat my tuin moet lewe nie. Terwyl daar ‘n verwagting is dat plante mooi moet lyk in die somer verwelk hierdie hitte net alles! Boonop het ek glad nie groen vingers nie! As iets in my tuin oorleef dan kan jy maar weet dat dit enige plek sal oorleef.  

Snags is die ergste! ‘n Mens sou dink dis effens koeler in die nag. Nee. Nee dit is nie. Manlief mag hoogstens met sy kleintoontjie naby aan my voete raak, anders is hy te naby en kry ek te warm. Ek is papnat gesweet, dit lyk kompleet of ek nou-net uit die stort geklim het! ‘n Bottel gevriesde water kom tot my redding en ek klou daaraan soos my 5 jarige aan haar teddiebeer. Beurtkrag laat my nou nie beter voel nie, want gedurende daardie tyd van die nag wat geen waaier of lugversorger kan werk nie slaap ek niks nie! Dit het nou al ‘n punt bereik waar ek al vir ‘n week lank in ‘n tent slaap. Sommer so in die agterplaas. My kinders dink dis die wonderlikste tyd van die jaar, want mamma slaap saam met hulle in die tent. Ek wil dit net graag duidelik maak dat ek glad nie ‘n kampeerder is nie. Ek hou nie van kamp nie. Ek hou nie van ‘n tent nie. Ek hou nie van ‘n opblaasmatras nie. Maar julle, die naglug in die Kalahari koel regtig baie af en ten spyte van alles waarvan ek nie hou nie is dit tog die moeite werd! Solank daardie tent deur ten alle tye toe gezip is sodat geen slang homself onder my matras kan kom tuismaak nie…

Ek is nie ‘n swartgallige, bitter mens nie. Ek hou regtig net nie van somer nie. Tog sien ek die mooi raak en ek dank ons Skepper vir die seisoene wat Hy aan ons gegee het. Soos ons omgewing seisoene het, so het ons lewens ook seisoene. Dit kan nie altyd dieselfde bly nie en ons het maar ons gunsteling tye en ons minder gunsteling tye. Wintertyd is my siel se somer. Ek sien uit na die koue sodat ek nader aan my man kan sit en snoesig onder die komberse lê en gemaklik kan slaap. Wanneer daar geen muskiete of vlieë of bosluise of goggas van ‘n aard my pla nie. Wanneer ek nie dink elke geritseling in die bos is ‘n slang waarvoor ek (besonders) bang is nie. Wanneer almal uitsien na heerlike kookkos en wanneer ‘n lekker wintersjas daardie ongewense ou rolletjie kan verbloem.

So wanneer ek vandag sê dat ek hoop jou winter is ekstra lank in 2023, moet jy verstaan dat ek vir  jou siel ‘n pragtige somer toebid!

Geniet elke oomblik!
xxx

Jy wil tog nie jou Eersteklas trollie net so los nie?

Los gerus jou details sodat jy later jou aankope kan finaliseer.

Scroll to Top
My cart
Your cart is empty.

Looks like you haven't made a choice yet.